My oë is dof van ellende; die hele dag deur roep ek na U, Here, en steek my hande in gebed na U uit (Psalm 88:10).
In een van sy vele meditasies herinner die Amerikaanse teoloog, Daniel Clendenin, sy lesers aan die tragiese dood van twee bekende persone.
Hulle was die akteurs Robin Williams – wat homself op die relatief jong ouderdom van 63 opgehang het – en Philip Seymour Hoffmann, wat ses maande vroeër op 46 aan ‘n oordosis van dwelms gesterf het.
Albei was suksesvolle akteurs wat gesukkel het met verslawing en depressie.
In sy nadenke oor hulle onverwagse dood, opper Clendenin die belangrike vraag of al twee se siektes nie vererger was deur ‘n soort geestelike armoede nie.
Die bekende Moeder Theresa het op haar dag al op iets soortgelyks gesinspeel toe sy geskryf het:
“Die groot siekte vandag is nie melaatsheid of tuberkulose nie. Dit is eerder die gevoel dat ons verwaarloos, verwerp en deur ander verlaat is. Dít is die groot kwaad, selfs boosheid: hierdie gebrek aan liefde en gasvryheid, die verskriklike onverskilligheid teenoor ander, veral hulle wat eenkant gestoot is as gevolg van uitbuiting, korrupsie, armoede en siekte.”
Clendenin sluit hierby aan met sy woorde: “Fisiese siekte is erg genoeg. Die gebrek aan liefde is ’n groter kwaal. Dit is ‘n donkerte wat lei tot die dood. Die lewe sonder liefde is onmoontlik.”
Ek dink die meeste van ons weet waarvan hierdie geestelikes praat. Die groot vraag bly: “Waar is egte liefde en hoe presies lyk dit? En belangriker nog: Hoe kan dit ons lewe vandag verander?”
O Here, soos die psalmdigter roep ons vandag na U. U bly ons troos, die bron van ons hoop en ons genesing. Amen
Carel Anthonissen