Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad (Johannes 13:1)
In die boek van Johannes – die evangelis van die liefde – staan daar aan die begin van die dertiende hoofstuk ‘n merkwaardige woord.
Dit is dat Jesus nie net, soos ons al gehoor het, sy volgelinge eerste liefgehad het nie, maar dat Hy hulle tot die uiterste toe liefgehad het. Die 1933 vertaling stel dit selfs nog meer dramaties naamlik dat Hy hulle tot die einde toe liefgehad het.
Of soos Eugene Peterson se moderne vertaling lui: rég tot die einde toe.
Wat die uitspraak so merkwaardig maak, is dat dit kom op ‘n stadium toe die donker wolke van verraad, vervreemding, lyding en dood besig was om rondom Jesus en sy dissipels saam te pak. Die dissipels was nog salig onbewus daarvan, maar Jesus het reeds geweet van die magte wat ‘n kloof tussen hom en die dissipels wou slaan (Joh 13:1-3).
In dié omstandighede trek Jesus sy bokleed uit, buig voor die dissipels en begin hulle voete te was. Daarmee demonstreer hy nie net die aard van sy werk en roeping as nederige diens nie, maar bevestig hy opnuut sy lojaliteit en troue liefde teenoor hulle.
Dit is ‘n taai, hardnekkige uithouliefde – ‘n liefde wat in mees vermoeiende omstandighede bly vashou aan die ander, ‘n liefde wat weier om hulle prys te gee. Dit is ‘n liefde wat, in Paulus se woorde, geduldig is, wat alles verdra en nooit die hoop op nuwe wendige of beter dae versaak nie.
In kort dit is ‘n liefde wat nooit vergaan nie. ‘n Liefde wat vandag ook vir jou bedoel is. En waaruit jy met vrymoedigheid en vertroue mag gaan lewe.
Here, dat U aan ons vashou, terwyl ons heeltyd wegbeur en U verloën, bly die ongebegryplike wonder van ons lewe. Help ons om daarop te vertrou – ook toe te laat dat dit ons lewe verander. Amen
Carel Anthonissen