Jesus het hom egter nie geantwoord nie (Johannes 19:9).
‘n Mens kom dikwels mense teë wat stilte ondraaglik vind, veral waar dit gaan om die ontmoeting en omgang met mense.
Hulle móét altyd praat, altyd redekawel, altyd ‘n storie of ‘n grap vertel of byhaal om só die gesprek aan die gang te hou of die ontmoeting te laat slaag.
Natuurlik is dit op sigself nie verkeerd nie.
Want gesprek en die woorde wat daarbinne opklink, bly ‘n belangrike, indien nie ’n onmisbare deel nie, van ons omgang en verkeer met mense. Woorde, veral wanneer dit vriendelike, aangename en bemoedigende woorde is, woorde wat ander se lewe verryk en hulle ook laat blom, bly belangrike boustene vir alle gelukkende vriendskappe en verhoudings.
Maar woorde kan ook vriendskappe beduiwel en verhoudings skaad. Woorde kan selektief en bedrieglik wees, hulle kan ander mislei, verraai of beskinder. Woorde kan wrewel en opstand skep, mense seermaak, afkraak, vernietig. Ja, woorde kan by tye eenvoudig té veel raak, sodat ander moeg word van jou gepraat, jou gebabbel, jou vertoon.
Ook hier word ‘n fyn onderskeidingvermoë gevra. Sodat ons sal weet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. Want swye is ook ‘n antwoord, dikwels die heel beste antwoord – soos ons dikwels in Jesus se lewe ook sien.
Iemand het dit eenmaal só gestel: “‘n Mens moet nooit die geleentheid laat verbygaan om tjoepstil te bly nie.”
O Here, bewaar ons vandag van te veel woorde. Leer ons die krag van kalmte en stilswye. Amen
Carel Anthonissen