Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder (Romeine 14:19).
Romeine 14:1-23 handel oor ‘n probleem wat nie onbekend is binne die gemeenskap van gelowiges nie.
Dit is dat daar meningsverskille kan ontstaan wat die onderlinge vrede en eenheid tussen gemeentelede kan versteur.
Die verskille in Rome het gedraai rondom ‘n verskeidenheid kwessies.
Onder andere was daar die viering van sommige dae as heilige dae (Rom 14:5), die beoordeling van sekere bediendes se werk (Rom 14:4). En dan die mees prominente en omstrede saak: die eet van seker kossoorte (Rom 14:2-3). Vir die meer konserwatiewe Joodse Christene was die vrye en ongeïnhibeerde wyse waarop die nuut bekeerde Christene uit die Griekse wêreld die vleis van sogenaamde onrein diere geëet het, ‘n aanstoot en ‘n bron van opbouende spanning.
Hoewel hierdie kwessies vir moderne mense soos ons vandag totaal vreemd en onbelangrik mag klink, is die wyse waarop Paulus die spanning tussen die onderskeie gemeentelede besweer het, tog rigtinggewend.
Want met groot oortuiging en helderte begin Paulus eenvoudig om die lede van die gemeente in Rome daaraan te herinner dat mense vir wie Christus gesterf het, mekaar nooit mag veroordeel of afskryf nie, maar moet aanvaar (Rom 14:1,13,15) – selfs wanneer hulle anders na sake kyk.
Hulle moet soos iemand dit mooi beskryf het “metgeselle op die pad van liefde bly”.
Natuurlik beteken dit nie dat daar nie ook ruimte gelaat moet word vir eerlike debat en selfs harde botsing nie. Dit is gesprekke waarin lede oop is om iets van mekaar te leer en ook nuwe keuses te maak. Maar – en dit is Paulus se punt – hierdie onderlinge gesprekke moet die opbou van en vrede in die gemeente help bevorder (Rom 14:19).
In dié dae waarin daar opnuut binne kerke oor uiters belangrike sake gepraat word, ook van belydenis, is hierdie riglyn van Paulus ‘n belangrike een om te volg.
Solank ons onthou dat die gemeenskap van gelowiges veel wyer strek as ons eie kerk- of kultuurgroep. Trouens, die bewaring en koestering van die eenheid van die groter familie is juis een van die groot uitdagings waarvoor die Belydenis van Belhar ons byvoorbeeld stel.
O Here, help ons om vandag fyn te luister na hulle wat van ons verskil. Help ons om hulle nie te gou te veroordeel nie, maar te bly aanvaar. Amen
Carel Anthonissen