Boodskap vir Vandag

Search

Wat regtig saak maak

Die koninkryk van God is nie ʼn saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God (Rom 14:17).

 Wie mooi na Paulus in Romeine 14 luister, sal ook ʼn ander riglyn vir die bevordering van vrede en harmonie in die gemeenskap van gelowiges optel.

Dit is dat ons as gelowiges moet leer onderskei tussen wat werklik saak maak – dié dinge wat, in Paulus se woorde, die koninkryk van God dien – en dit wat van minder waarde of belang is.

Dit is ʼn belangrike herinnering, want ons almal is geneig om soms ʼn persoonlike saak of voorkeur te ernstig op te neem of te vurig aan te dryf. Dikwels is dit ʼn waarheid of insig wat ons bevry het en wat ons dan tot elke prys op ander wil afdwing.

Ons moet leer dat mense verskil. Boonop word hulle op verskillende paaie gelei. Wat jóú bevry, kan dalk vir ander ʼn hindernis, selfs ʼn aanstoot, wees. Net soos in Rome waar sommige vry gevoel het om álles eet, terwyl ander daarin ʼn gevaar, selfs ʼn bedreiging, vir die suiwer geloof gesien het.

In dié omstandighede vermaan Paulus die vryer en sogenaamde sterker gelowiges om rustig te raak. Om hulle gang te gaan, ja, maar om terselfdertyd sensitief en nugter te bly en seker te maak hulle gedrag en optrede gee nie onnodig aanstoot nie en veroorsaak nie onmin nie.

Hiérop moet hulle bly fokus, dít bly die belangrikste opgawe: om te midde van verskille en ander se irrasionele vrese wyer te kyk en onverpoosd vrede, harmonie en vreugde te bly soek. Want só dien hulle die koninkryk. Só wys hulle dat hulle goed onderskei tussen wat werklik belangrik is en wat maar gelaat kan word.

Paulus stel dit duidelik: “Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie … Die koninkryk van God is nie ʼn saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee” (Rom 14:15, 17).

O Here, gee ons vandag weer die onderskeidingsvermoë om die vryheid wat U vir ons gegee het nie ten koste van ander uit te leef nie. Laat ons u wil en vrede bo alles soek. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.