Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie;
en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem (Rom 14:3).
Dit bly interessant dat Paulus in Romeine 14 ʼn nuwe onderskeid inbring terwyl hy elders die onderskeid tussen mense sterk relativeer (Gal 3:28).
Die onderskeid wat hy hier inbring, is dié tussen die sogenaamde vry en swak gelowiges (Rom 14:1-2).
Die vry gelowiges het geglo niks is vanself onrein nie en dat hulle daarom vry is om alles te eet. Die swak gelowiges, daarenteen, het vasgehou aan die ou Joodse gebruike en was daarom versigtiger, selfs bang, om vleis te eet.
Met dié onderskeid het Paulus natuurlik nie net die werklike situasie in Rome beskryf nie, maar ook die gevaar van spanning en konflik wat daarin opgesluit was, probeer besweer.
Ons glo vandag hy het grootliks daarin geslaag. Tog moet ons nie naïef wees hieroor nie. Die spanning tussen die sogenaamde vry en swak gelowiges bestaan vandag nog. Weliswaar kom dit rondom ander kwessies na vore, maar dit is onmiskenbaar daar.
Boonop moet die potensiële konflik wat in hierdie onderskeid geleë is, voortdurend onderhandel, bestuur en hanteer word.
Die vry gelowiges sal byvoorbeeld moet leer om hulle vryheid altyd met sensitiwiteit, verdraagsaamheid en takt uit te leef – om nie die swak gelowiges onnodig te veroordeel of selfs te verag nie (Matt 14:3, 10). Die swak gelowiges, weer, moenie hulle vrese en swakhede misbruik om noodsaaklike verandering en vooruitgang in die kerk te strem nie.
Die geskiedenis is vol voorbeelde van laasgenoemde – waar die sogenaamde swak gelowiges met ʼn beroep op die oorgelewerde gebruike hulle sin gekry en só verandering en groter vryheid teengestaan het.
Die hartseer is dat baie kerkleiers dikwels weens hulle eie vrese en kleingeloof meer geneig is om na die sogenaamde swakkeres te luister en húlle sentimente te volg as andersom.
Miskien is dit omdat hulle self nog nie vry genoeg is nie.
O Here, leer ons vandag om ons vryheid tot u diens te stel en ons swakheid in u hande te plaas. Amen.
Carel Anthonissen