Moenie dat die goeie wat julle het, ʼn slegte naam kry nie (Rom 14:16).
In Romeine 14 is daar ʼn laaste rede waarom Paulus daarop aandring dat Christene binne die gemeenskap met mekaar voortdurend vrede, liefde en eengesindheid sal soek en uitleef.
In sy woorde, sodat die goeie wat ons het nie ʼn slegte naam kry nie.
In dié eenvoudige sin sit daar iets geweldigs. Daarmee herinner Paulus ons allereers dat ons verhouding met mekaar, ja, gewoon die feit dat ons lede van ʼn gemeenskap is, wat saam bely dat ons die God van Christus ken en dien, ʼn geweldige gawe is.
Dit is ʼn gawe wat boonop die samelewing om ons ten goede kan wees.
Maar dan moet ons hierdie gawe van gemeenskap met mekaar met vreugde en toewyding omhels. Trouens, dit is ons groot roeping: om voortdurend iets voor te leef van Christus se groot liefde en genade teenoor alle mense, veral teenoor dié wat swak en hulpeloos is, dié wat gefaal het en steeds geknel word deur onnodige skuld en selfverwyt.
Binne die kring van gelowiges moet sulke negatiewe gevoelens aanhoudend besweer en bestry word. Dáár moet mense tuis, gelukkig en aanvaar voel, selfs vry voel om hulle liefde en dankbaarheid openlik te wys. Soos Richard Rohr dit in ʼn pragtige meditasie oor die hart van kerkwees stel: “Here it must be okay to show affection … Here you do not have to be ashamed or afraid.”
Dít, hierdie ruimte van gemeenskap waar Christus se liefde en aanvaarding, sy geduld en vergifnis werksaam en sigbaar moet word, is die goeie wat ons het. Dit is die goeie voorbeeld wat ons aan die wêreld skuld.
Ongelukkig sien die wêreld dikwels min hiervan. En dít omdat ons as gelowiges net so selfgerig, magsbehep, ongeduldig en selfsugtig soos al die ander is.
Daarom dat Paulus ons telkens moet vermaan: “Moenie dat die goeie wat julle het, ʼn slegte naam kry nie.”
Hierop moet ons vandag weer let.
Here, U ken ons lewe. U weet ons slaag nie altyd daarin om die goeie wat U ons gun uit te leef nie. Vergewe ons en maak ons vandag meer toegewy aan u liefde. Amen.
Carel Anthonissen