“Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is hulle vol hebsug en onmatigheid” (Matt 23:25).
Baie mense leef ʼn verskanste lewe.
Na buite lyk hulle vrolik en in beheer, maar binne kook en bruis dit. Agter die masker of gesellige front is hulle lewe dikwels deurmekaar en ontwrig. Hulle voel kwaad en gefrustreerd, sonder om dit noodwendig te wys.
Ook die vromes ontsnap nie hierdie versoeking van ʼn verskanste lewe, selfs ʼn dubbelslagtige lewe, nie. Veral predikante en ander Christenleiers ken dit. Hoe jou rol vereis dat jy te alle tye ʼn voorbeeld van kalmte en vriendelikheid moet wees.
En dan kom daar dae dat alles deurmekaar loop. Dat die eise en verwagtings van mense of die samelewing net te veel raak. Sodat jou spanning abnormaal hoog en jou geduld al minder word. En jy allermins voel na lag.
Maar jy moet deurdruk met die vroom en vriendelike front. Jou rol vereis dit. Daarom glimlag jy maar.
Natuurlik behels volwassenheid dat ons deurlopend daarna sal streef om ordentlik, kalm en vriendelik na buite op te tree. Maar ʼn volwasse lewensingesteldheid behels ook eerlikheid en deursigtigheid. Sodat die kloof tussen wat ons voel en hoe ons lyk of optree nie te groot sal raak nie. En sodat mense presies sal weet en sien wie ons is, ook wanneer ons soms af is en sukkel.
Anders kan mense ook van ons sê wat die swart man wat jare lank vir ʼn leraar gewerk het, oor hom gesê het. Toe mense hom eenmaal vra wat hy van sy werkgewer dink, was sy opmerking: “Ek het hom nie regtig vertrou nie. Hy was ʼn man wat altyd breed en maklik geglimlag het, maar ék het geweet: binne-in was daar nie ʼn lag nie.”
Waarmee hy bedoel het: Dié man was nie altyd wie hy voorgegee het om te wees nie. Na buite het hy altyd geglimlag. Maar agter die masker het daar ʼn moeilike en ongeduldige mens geskuil.
O Here, verlos ons vandag van die dubbelslagtigheid wat ons onegte en onbetroubare mense maak. Gee ons onverbloemde eerlikheid. Amen.
Carel Anthonissen