God is vir ons ʼn toevlug en ʼn beskerming (Ps 46:20).
Wie begin nadink oor wat dit beteken om eg teenwoordig te wees, vind gou uit dit is dikwels veel makliker om te praat oor hoe dit voel om afwesig te wees.
Dit is om konneksie te verloor met die onmiddellike, om afgeskakel te wees vir wat hier en nou met jou gebeur en vir wat van jou gevra word.
My nadenke oor ʼn spiritualiteit van teenwoordig-wees het my gedwing om éérs hierna te kyk. In hierdie proses het ek, ten minste vir myself, sekere aanwysers geïdentifiseer wat my waarsku, byna soos alarms wat afgaan, dat ek nie meer eg en sinvol teenwoordig is by myself en ander nie. Dat dit nodig geword het om stadiger te gaan, stiller te word en aandagtiger te leef.
Hierdie indikators of aanwysers het natuurlik baie gesigte, maar van die bekendstes – en dit hang meestal direk saam met ʼn oorvol en gans te besige lewe – is:
ʼn Opvallende en kroniese verstrooidheid. Jy verlê jou sleutels; jy plak jou bril onnadenkend neer waar jy dit later nie kan opspoor nie; jy vergeet weer jou selfoon in die motor, ensovoorts.
Hiermee saam loop ʼn groeiende frustrasie met jouself wat dikwels na vore kom in moedeloosheid, ongeduld en selfs woede teenoor ander – ook teenoor jouself. Sodat jy jou by tye betrap dat jy met jouself begin raas en baklei.
Die slegste is dat jy – wanneer jou nerwe, by wyse van spreke, só begin afskaaf – met groter wantroue, minagting en selfs ʼn vorm van veragting na die wêreld begin gluur.
ʼn Laaste minder dramatiese, maar meer bekende aanwyser dat ons nie meer eg teenwoordig is by onsself nie, is natuurlik ʼn groeiende gevoel van rusteloosheid, onbehae en angs – wat ons dikwels in die nag laat wakker lê.
Wanneer dié aanwysers hulle voelbaar maak in ons lewe het dit, in Boerneef se woorde, tyd geword om briek aan te draai. Ook om opnuut na jou Skepper te draai.
Here, dankie dat U vir ons ʼn toevlug en ʼn beskerming is wanneer ons beheer oor ons lewe verloor. Help ons om telkens na U te draai. Amen.
Carel Anthonissen