By U, Here, skuil ek (Ps 31:2).
Om afwesig te wees, dit wil sê, om nie ten volle teenwoordig in die hede te leef nie, beteken natuurlik nie ons is sonder enige bewussyn nie.
Natuurlik is ons altyd van iets bewus. Vanaf die oomblik dat ons in die oggend ontwaak tot wanneer ons gaan slaap, is daar ʼn stroom gedagtes wat gedurig deur ons kop vloei – van herinneringe, drome en planne tot afsprake.
Die groot en belangrike vraag is na inhoud van hierdie gedagtes. Anders gestel, na die kwaliteit van my teenwoordigheid by mense en dinge, ook van my as gelowige voor God.
Dit gaan oor die hóé van my teenwoordigheid.
Dié vraag bly belangrik omdat ons elke dag deur allerlei eksterne en interne invloede, stimuli en aansprake omring en bykans oorlaai word. Hierdie magdom stemme is geneig om ons lewe so te oorspoel dat dit ons aandag aflei en verstrooi, ons lewe fragmenteer en dit vir ons feitlik onmoontlik maak om volledig teenwoordig te wees. Om in so ʼn mate in die hede te leef dat ons naby aan dinge en mense is. En om goed na hulle te luister.
Onder druk van die hedendaagse samelewing raak ons lewe maklik ʼn gehardloop, weg van die onmiddellike, los van die hede. Sodat wat ons hier en nou doen, dikwels onnadenkend en, erger nog, onsensitief en stomp is.
Dit was met dié gevaar in gedagte dat Jörg Zink hierdie aangrypende gebed gebid het:
“Ek wil stil wees, Here, en op U wag. Ek wil stil wees sodat ek kan verstaan wat in u wêreld gebeur. Ek wil stil wees om naby aan die dinge te kom, aan al u maaksels en hulle stemme te hoor. Ek wil stil wees sodat ek onder die baie stemme u stem kan herken.”
Waarom nie nou kortliks stil raak en dié paar woorde bid nie?
O Here, ons wil nou by U kom skuil. Vul ons bewussyn vandag opnuut met u Gees en met u gedagtes sodat ons naby aan almal en alles kan leef. Amen.
Carel Anthonissen