Die uur is daar dat julle uit die slaap moet wakker word (Rom 13:11).
Daar is ook ʼn ander rede waarom ons eg teenwoordig moet wees, dit wil sê, meer bewus moet wees van alles wat elke dag in en rondom ons gebeur.
Dit is dat meeste mense, sonder dat hulle dit besef, ʼn soort afgeskakelde lewe leef. Party kenners verwys hierna as ʼn lewe waarin jy, terwyl jy liggaamlik wakker is, emosioneel en geestelik slaap; jy is nie meer oop en ontvanklik vir dit wat die goeie Skepper hier en nou vir jou aanbied nie; jy sien nie meer die uitdagings of geleenthede van die oomblik raak nie.
Wat nog hartseerder is, is dat jy nie meer bewus is van wat jou siel – dit is, die roepstem van jou Godgegewe potensiaal en passies – van jou vra nie. Jy leef, soos die filosoof Martin Heidegger dit eenkeer gestel het, onder die diktatuur van das Man. Dit beteken: Jy dryf maar saam met die stroom, maak soos al die ander maak, dink nie meer na oor jou unieke roeping en bestemming as mens nie.
Wanneer ons lewe só deur die alledaagse mode, die kultuur van die massas gedryf en bepaal word, gebeur ʼn volgende ding. Ons lewe raak eentonig, voorspelbaar en selfs sonder betekenis. Daar is niks nuuts meer wat gebeur nie, niks anders om na uit te sien nie. Elke dag, week en maand verloop presies soos die vorige. En só raak ons vasgeval in lewenspatrone en gewoontes wat volkome sieldodend en ongesond kan wees.
In sekere sin leef jy dan nie meer nie; jy wórd geleef. Jy ploeter onwillekeurig, onnadenkend en onkreatief voort, net soos ʼn vliegtuig wat outomaties gestuur word. Al waarvan jy wel bewus is, is die eentonige reëlmaat, die leegheid, die eensaamheid, die nag.
Dit was presies met die oog op dié gevaar dat Paulus in Romeine 13 die gemeente opgeroep het: “Die uur is daar dat julle uit die slaap wakker word … die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem” (Rom 13:11-12).
Ek dink jy sal weet wat hierdie oproep vandag vir jou beteken.
O Here, vergewe ons dat ons so onnadenkend en aan die slaap is, oorgegee aan lewenspatrone en gewoontes wat nie altyd gesond en lewegewend is nie. Waai vandag weer met u Gees deur ons lewe, maak ons meer bewus sodat ons hierdie dag as ʼn Godgegewe geleentheid kan aangryp. Amen.
Carel Anthonissen