Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur (Jes 43:19).
Volgens geleerdes is daar ʼn tweede klassieke struikelblok wat verhoed dat ons vry en sinvol in die hede teenwoordig is en leef.
Dit is ʼn nostalgiese ontvlugting na en ʼn ongesonde koestering van ons verlede.
Hoe goed verstaan ons nie so ʼn reaksie nie! Wanneer die spanning en aaklighede van die hede ondraaglik word, is die verlede dikwels ʼn logiese en salige toevlug vir ons gedagtes en verbeelding.
Israel was daartoe geneig toe die woestynlewe hulle liggaamlik en geestelik begin uitmergel het. ʼn Mens kan jou indink hoe hulle in die nag van die sogenaamde vleispotte van Egipte begin droom het, selfs al was hulle status in die slawerny van Egipte maar yl en hulle lewe minderwaardig.
Hoeveel wit Suid-Afrikaners worstel nie vandag om tuis te kom in die hede van ʼn nuwe demokrasie met al sy ongemaklike pyne nie. Hoe sterk is die verlange dan nie na die sogenaamde goeie ou tye toe die politieke mag aan hulle behoort het nie, al was dié mag deurgaans broos en omstrede.
As individu kan jy ook vasval in die foute en sondes van die verlede sodat jou huidige gevoel oor die lewe dié van permanente skuld en selfverwyt is. Hierdie las van die verlede kan so neerdrukkend en oorheersend word, jou huidige bestaan so kleur en belas, dat jy nouliks meer raaksien hoe vol nuwe geleenthede, moontlikhede en selfs gawes jou hede wel is.
Vir dié wat vasgeval is in die verlede, hetsy op ʼn nostalgiese of mismoedige manier, is dit nodig om weer God se woorde in Jesaja 43:18-19 te hoor: “Moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur.”
Die God van die Bybel kan dit sê omdat dié God ʼn God is wat vergewe en altyd weer kans sien om oor te begin – ook vandag.
Here, dankie dat U ons bly vergewe, dat U ons nooit die sondes van die verlede bly toereken nie. Help ons daarom om onsself te vergewe en voluit, sonder onnodige verwyte of skuldgevoelens, in die hede te leef. Amen.
Carel Anthonissen