Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en die lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ʼn lewende wese geword het (Gen 2:7).
Mimi is ʼn kollega met die gawe om mense in stilte te begelei.
Só help sy dié wat oormatig vermoeid en belas is om tot rus te kom en vollediger by hulleself teenwoordig te wees.
Om mense by dié punt uit te bring, begin sy gewoonlik om hulle van hulle asemhaling bewus te maak. Want om bewustelik te voel hoe die lug jou neus, lugweë en longe binnestroom, is gewoonlik die begin van, ja, die eerste stap tot aankoms in die hede. In dié sin is ons asemhaling die voorportaal tot ʼn lewe van groter en voller bewussyn.
In ons asemhaling ervaar ons die wonder van lewe en raak ons veral daarvan bewus hoe ons liggaam die lewe polsend ontvang, koester en uitstraal.
Mimi hou egter nooit daar op nie. In aansluiting by die Bybelse beeld of metafoor van God as Skepper wat die mens tot lewe wek deur die lewensasem in die mens se neus in te blaas (Gen 2:7), herinner sy mense ook altyd aan hierdie dieper misterie van die lewe.
Dit is dat ons lewensasem ʼn grootse gawe is; deur op ons asemhaling te fokus, kan ons by die diepste, maar ook die onbegryplikste geheim van ons bestaan vertoef: dat die God van lewe ons daagliks vashou, dra en versorg.
Deur bewus te word van die lewensasem wat deur ons vloei, kan ons as gelowiges bewus raak hoe God elke dag, nee, elke oomblik, sy nuwe lewe in ons bestaan inblaas – ook daar waar ons die gevoel kry ons het nie werklik lewe nie. Of dat iets in ons gesterf het.
Dus, sit ʼn oomblik agteroor, maak jou oë toe, raak bewus van jou asemhaling. Raak bewus van God se Gees wat in jou leef en werk.
Veral daar waar jy verlang dat nuwe lewe en uitsig sal kom.
O Here, raak my nou in hierdie stil oomblik, waar ek van my asemhaling en die wonder van lewe bewus is, aan met u Gees. Amen.
Carel Anthonissen