Toe het hulle begin feesvier (Lukas 15:24).
Wat gesonde eetgewoontes – dit is daardie langsamer en meer bewuste eet en genieting van goeie kos – alles aan ‘n mens kan doen, is nêrens duideliker te sien as in die film “Babette’s Feast” nie.
Natuurlik is die film, gebaseer op die bekende Deense skrywer Karen Blixen se pittige kortverhaal, allereers ‘n lofsang op die befaamde kunstenaarskap van Babette, die stil Franse vrou wat op haar dag ‘n voorste kok in een van Parys se beste restaurante was. Haar besonderse kookkuns was destyds wyd bekend en gesog.
En dan, wanneer sy ná jare van ontbering en nederige diens in ‘n afgeleë gemeenskap die geleentheid kry om hulle – ‘n groepie eenvoudige gelowiges – met haar befaamde kookkuns te bedien, gebeur daar iets wonderliks.
Die eerste is dat die maaltydgangers se sintuie ontwaak, sodat hulle oë by die proe van Babette se gesogte wyn en kos, skielik onophoudelik begin flikker. Ook begin hulle met ongeïnhibeerde oorgawe hulle lippe af lek, aan alles smul, selfs hulle hande in span om die laaste beentjies uit te suig. Die maaltyd word een groot en bewuste genieting!
Maar daar gebeur ook ‘n tweede ding wanneer die groepie bewustelik eet en van Babette se ongewone en keurige disse geniet – hulle harte begin op nuwe maniere vir mekaar oopgaan. Saam met die warmte van genoeglike spys en drank, ontstaan daar ‘n nuwe warmte en toegeneentheid tot mekaar. Sodat ou geskille skielik bygelê word, neerdrukkende skuld bely word en nuwe liefdes verklaar word.
Uiteindelik dans almal aan die einde van die aand soos kinders buite in die sneeu – nou meer bewus van hulle eie liggame, die kleur en wonder van hulle sintuie, die gawe van kos en gemeenskap en die goedheid van hulle God, wat via Babette se talent so ryklik aan hulle gegun was.
Ag, as alle maaltye maar só was.
Here, gee ons vandag weer ‘n nuwe waardering vir al die wonderlike en konkrete gawes wat U daagliks aan ons gee. Maak ons veral dankbaar vir kos en klere. Laat ons dit ook aan ander gun. Amen