Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Om jouself in iets groters te verloor

Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien (Job 42:5).

In sy pryswennerboek oor ‘n aardse spiritualiteit getitel “Waar op dees aarde vind mens God?” maak die skrywer, Ernst Conradie, ‘n belangrike uitspraak.

Dit lui: “Ons gaan die skepping alleen verstaan vanuit ‘n ontmoeting met die Skepper. ‘n Mens kan jouself net vind as jy jouself verloor in dit wat groter is as jyself.”

Nie almal sal vandag noodwendig met hierdie stelling saamstem nie – veral nie hulle wat God reeds in hulle lewe afgeskryf het nie. Maar vir gelowiges bly dié uitspraak ‘n grootse en vrymakende waarheid.

Die Bybel is vol voorbeelde en verhale van mense wat hiervan weet, dit selfs eerstehands ervaar het. Mense wat op onverwagse en verrassende maniere ingelei is in, selfs oorrompel is, deur die misterie van God se teenwoordigheid. En wat só tot ‘n dieper bewussyn van hulleself en die skepping ontwaak het. Ook nuwe sin en betekenis, hoop en uitkoms in hulle lewe, ja, selfs in hulle donkerste nag, ontdek het.

Job is maar een van baie wat op ‘n stadium in hulle lewe kon uitroep: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien” (Job 42:5).

Wie vandag steeds die verhale van die Bybel biddend en met kinderlike afwagting, vertroue en geduld lees, betree ‘n plek waar God – soos oor eeue met baie gebeur het – onverwags en verrassend jou lewe kan binnetree. Jou ook met onvoorwaardelike liefde en sorg kan aanraak.

En jy jouself met al jou vrae en worstelinge kan verloor én vind in iets groters as jyself.

O Here, raak my tog vandag weer aan met u liefde en met u genade. Maak my oë op vir u teenwoordigheid. Gee my ‘n dieper bewussyn van U en van myself. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.