O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! (Romeine 11:33).
Baie gelowiges voel nie heelpad gemaklik met die hedendaagse nadruk op die belangrikheid van voller bewussyn (“mindfulness”) nie, oftewel om eg teenwoordig te wees.
Onlangs weer merk iemand teenoor my op dat dit net ‘n nuwe sielkundige gril of mode is. Dit behels eenvoudig oefening in menslike verbeelding – so stel hy dit – wat hom nie veel aanstaan nie.
Inderdaad is daar, soos met die meeste pogings of modelle om die mens se lewe beter te probeer verstaan en beskryf, ook beperkings aan die “mindfulness”-kultuur. Die belangrikste is waarskynlik dat dit mense se eie vermoë om tot rus en kalmte te kom, om groter heling en integrasie in hulle lewe te bewerkstellig, mag oorskat.
Nie dat mense nie hierin ‘n eie en durende verantwoordelikheid het nie, soos Paulus dit stel, “geroep is om sy eie heil uit te werk” nie. Maar daar is inderdaad grense hieraan (Fil 2:12-13). Daar kom situasies waarin mense aan die einde van hulle eie kragte kan kom, waar die lewe so verwarrend, uitsigloos en donker kan word, dat mense moet toegee dat hulle nie verder weet of kan nie.
In sulke situasies het menige gelowige die vreemde ervaring gehad dat hulle, ondanks hulleself, ondanks hulle eie verlangens en pogings, asof van buite, plotseling aangeraak en tot groter bewussyn, insig, hoop en moed gelei is.
En dít is die punt. Vir gelowiges is die ervaring om eg teenwoordig te wees, om die ware aard van die realiteit en die lewe te deurskou en só van ongesonde vrese, angste en magte bevry te word – want dit is wat volle bewussyn (“mindfulness”) beteken – ‘n gawe, ‘n ervaring wat die verstand en verwagtings van mense meesal oorstyg. Wat jou soos Paulus alleen in ‘n lofsang laat uitbreek (Rom 11:33).
Tereg verwys die teoloog, John de Gruchy, na dié ervaring as een waarin ons ‘n ongewone misterie binnegelei word. En wanneer Paulus ons in Filippense 2:12-13) oproep om – in die woorde van die 1933-vertaling – ons eie heil uit te werk en só medewerkers van God te word, is dit omdat hy bewus geraak het van hierdie misterie en dat dit uiteindelik God is wat in ons werk om sy wil te doen.
Die geheim van egte teenwoordigheid, van ‘n voller bewussyn van dinge, sluit nooit ons eie verantwoordelikheid uit nie. Vir gelowiges begin dit egter altyd by en in die misterie van God se onverklaarbare liefdeswerk in hulle lewe.
Daarheen moet ons as gelowiges ons elke dag keer.
O Here, terwyl ons ons vandag daarop toelê om as verloste mense te leef, werk tog self in ons. Lei ons dieper in die misterie van U werk in ons in. Amen
Carel Anthonissen