Met sy stem laat God magtige dinge gebeur. Hy doen groot dade en ons begryp dit nie (Job 37:5).
Wanneer die gordyn spreekwoordelik lig en ons dieper die misterie van God se nabyheid en liefde binnegelei word, gebeur allerlei dinge.
Ons ontwaak allereers tot die wonder van die skepping en van lewe rondom ons.
Dan word die opkoms van die son, die deurbreek van lig wat die aanbreek van ‘n nuwe dag aankondig, as ‘n wonderlike gawe ervaar. Terselfdertyd begin ons oë, soos Job s’n (Job 37-41), oopgaan vir God se asemrowende werk en sorg in die natuur.
Trouens, die vanselfsprekendste natuurgebeure soos sterre in die naghemel, die wind wat loei, die wolke wat swaar word van vog en dan hulle vrag in heerlike reën oor ons aarde loslaat, word heenwysings na en herinnerings aan God se kragtige teenwoordigheid by ons (Job 37).
Selfs die plant- en dierewêreld word ‘n magtige getuienis van hoe oordadig en kleurryk God alles geskep het en tot vandag toe steeds dra en onderhou.
Wie in die woorde van die Ierse skrywer, John O’Donohue, hierdie “heilige gawes wat deur elke nuwe dag na ons aangebring word” om sy of haar hart begin weef, begin ook sagweg saam met die gelowiges oor die eeue sing:
“O Heer my God, as ek in eerbied wonder – en al u werke elke dag aanskou: die son en maan, die aarde, sterre, wolke, hoe U dit elke dag so onderhou. Dan moet ek juig, my Redder en my God! Hoe groot is U; hoe groot is U! Want deur die hele skepping klink dit saam: hoe heerlik, Heer, u grote Naam!”
En jy mag maar sing!
O Heer, maak vandag weer my oë oop vir u magtige dade rondom my sodat ons opnuut u lof kan besing. Amen
Carel Anthonissen