Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek … Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? (Romeine 7:15,24).
Onlangs, tydens ‘n ontmoeting met ‘n gerespekteerde filosoof, maak sy die insiggewende opmerking dat mense vir hulleself nooit ‘n oop boek is nie.
Trouens, ons lewe is veel komplekser as wat ons party dae sou wou hê. Dit bly gevul met allerlei onbegryplike en pynlike teenstrydighede – lig en donkertes, hoogtes en dieptes, oomblikke van groot vreugde en vryheid – maar ook van diepe teleurstelling en ontnugtering.
Dit bly belangrik dat ons dit gedurig sal erken en moedig aanvaar. Trouens, vir die sielkundige James Hollis – en daar is baie wat met hom saamstem – is hierdie vermoë om teenstrydighede te aanvaar en selfs te omhels, die waarmerk van egte volwassenheid en ‘n belangrike sleutel tot fisiese en geestelike gesondheid. In sy woorde: “Ambiguity opens us to discovery, complexity and therefore growth. The health of our culture, and the magnitude of our personal journeys require that we learn to tolerate ambiquity, in service to a larger life.”
In haar nuutste boek “Surprised by the Man on the Borrowed Donkey” vind die bekende teoloog Denise Ackerman hierdie teenstrydighede in God self en sien sy die aanvaarding daarvan as die hart van egte geloof en selfkennis. Aangrypend druk sy dit uit: “Ek het ontdek dat om die onbegryplike, onpeilbare en raaiselagtige misterie van God te aanvaar aan die hart van my geloof lê. Algaande leer ek dat die weg na God ook behels dat ek die misterie van myself aanvaar. Dit is die misterie dat ek ‘n onvoorspelbare mengsel van orde en wanorde is, geloof en twyfel, lig en donkerte.”
Vir Christene wat geleer is dat geloof oornag al jou probleme kan oplos en wegneem, dat dit voortdurende vreugde en geluk waarborg, is dit nie altyd ‘n maklike waarheid om mee saam te leef nie. En tog sal ons onsself baie onrus, wroeging en skuldgevoelens spaar as ons by dié punt kan uitkom.
Trouens, ons sal een van die grootste gawes van die geestelike lewe ontvang, naamlik die transformasie van ons teenstrydighede in, wat Parker Palmer noem, “die hoop van paradoks”.
O Here, gee ons vandag die moed om die teenstrydighede in ons lewe te omhels, wetende dat U wat self ‘m misterie is daaruit hoop en nuwe lewe kan skep. Amen
Carel Anthonissen