Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die man op die geleende donkie

Kyk, jou Koning kom na jou toe; Hy is nederig en ry op ‘n donkie (Sagaria 9:9).

Die teoloog Denise Ackerman se nuutste boek “Surprised by the Man on the Borrowed Donkey” is ‘n neerslag van haar eie geestelike reis en ‘n skatkis vol heerlike en bevrydende waarhede.

Die boek handel oor die waarde en rykdom van ‘n geseënde lewe. Dit bied, in die gees van Jesus se eie saligsprekinge, ‘n klompie eietydse en verrassende seëninge, almal geskryf in die idioom van die moderne mens.

Volgens Ackerman het hierdie seëninge in haar eie lewe nie uit die lug geval nie. Haar ontmoeting met en voortgaande betrokkenheid by die persoon van Jesus, “die man op die geleende donkie” (soos sy Hom beskryf), het hierdie seëninge in haar lewe onsluit.

Aangrypend beskryf sy hoe sy in ‘n relatief onskuldige Bybelstudie vir vroue die eerste maal met die figuur van Jesus in aanraking gekom het. En hoe dit haar by ‘n geestelike kruispad gebring het. Sy moes kies: Óf Jesus was vir haar ‘n blatante leuenaar en malkop, óf Hy was die Seun van God, die opgestane Heer.

Sy het besluit om laasgenoemde weg te verken, om sy eie woorde en die getuienis van sy volgelinge ernstig te neem. Wat daarná gevolg het, was ‘n pad van onophoudelike verrassings en seëninge.

Sy het ontdek hoe menslik Hy was; hoe Hy almal, tot by die armste en mees verworpene, kon akkommodeer; hoe Hy sy volgelinge oor nuwe grense geneem het, hoe dit hulle bevry het en hulle oë opgemaak het vir nuwe moontlikhede en nuwe seëninge.

En selfs waar hierdie seëninge nie die swaarkry van die lewe volledig ophef nie, het dit haar ‘n voorsmaak gegee van wat dit beteken om eg te lewe.

In haar woorde: “I have found that when I keep my eyes on the man who borrowed a donkey, I taste something of being ‘fully alive'”.

Dit bly ‘n jammerte dat soveel mense hierdie man op die geleende donkie glad nie ken nie. Of assosieer met ‘n lewe van skuld en skaamte.

O Here, U wat nederig en vry, menslik en oop was – maak ons vandag deel van u seëninge. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.