Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan, die lewe van Jesus sigbaar kan word (2 Korinthiërs 4:11).
Wie Jesus, die man op die geleende donkie begin volg, ervaar volgens die skrywer Denise Ackerman allereers die seën wat in die sogenaamde teenstrydighede van die lewe opgesluit is.
Trouens, in die lewe van Jesus vind hierdie teenstrydighede ‘n eie verrassende gestalte – een wat ons te staan bring voor die onbegryplike misterie van God self.
Want in die nederige gestalte van Jesus, so getuig sy volgelinge, het die grote Skeppergod self onder ons kom woon. Dáár, in die Man van Nasaret se doen en late, sien ons die krag van hierdie God werksaam. In en deur Jesus se vernederende dood, so hoor ons, kan ons die omvang en diepte van hierdie God se liefde beleef, ervaar hoe daar nuwe lewe en hoop deurbreek.
Hier sien ons, in die woorde van Richard Rohr, hoe God se lyding vír die wêreld terselfdertyd ook ‘n “blyvolle soort ekstase” óór die wêreld kan wees.
Meer teenstrydig en raaiselagtig kan dit nouliks raak – vir sommige grens dit, verstaanbaar genoeg, aan die onmoontlike, die absurde.
En tog, wie hierdie raaisel in die geloof omhels, wie hierdie teenstrydige kante van Jesus se lewe as die misterie van God se teenwoordigheid, van sy soekende liefde vir mense soos ons herken, ervaar wat Ackerman “die seën en hoop van paradoks” noem.
Hulle ontdek soos Paulus dat, alhoewel hulle lewe broos en verganklik is soos kleipotte wat maklik breek, dit ook ‘n skat bevat – ‘n unieke lig en krag wat hulle regop, waardig en hoopvol kan hou, selfs al tuimel alles ineen (2 Kor 4:7).
Hulle kan getuig dat, alhoewel hulle uiterlik besig is om te vergaan, hulle elke dag innerlik vernuwe word (2 Kor 4:16). Want hulle dra die sterwe van Christus in hulle liggame, sodat sy lewe ook daarin sigbaar kan word (2 Kor 4:11).
Ja, hulle weet daarom dat selfs in swaarkry daar winste is (Rom 5:3-5).
Here, onse Here, ons wil vandag net stil raak voor die misterie van u liefde wat U so ryklik aan ons in die lewe van Jesus, die nederige timmerman, bewys het. Amen
Carel Anthonissen