Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak (Johannes 1:18).
In die afgelope paar meditasies het ons stilgestaan by die belangrikheid daarvan om as volwasse mense die teenstrydighede van ons lewe, die donker- en ligkante daarvan, goed te leer ken, te aanvaar en as ‘n belangrike deel van ons lewe te omhels.
Miskien het jy teen dié tyd al gewonder waarom dit so belangrik is?
Die aanvaarding daarvan trek ons, in die woorde van die sielkundige James Hollis, “dieper in die kompleksiteit van die lewe in”. Dit op sigself kan ons tot nuwe ontdekkings en groei lei. Verder vrywaar dit ons van stagnasie en wat iemand “‘n ongereflekteerde sekerheid” genoem het.
Ongereflekteerde sekerhede is sekerhede wat mense óf deur opvoeding óf deur indoktrinasie ingekry het en wat nooit krities bevraagteken of ondersoek word nie. Dit is sekerhede wat dikwels op vrees berus en waaraan mense blindelings, by tye selfs fanaties, vasklou.
Die probleem van sulke ongereflekteerde en ongetoetse sekerhede – so wys die teoloog Denise Ackerman tereg uit – is dat dit maklik die fondament vir fundamentalisme kan word.
Fundamentalisme kom in alle velde van menslike aktiwiteit (polities, wetenskaplik, ekonomies en godsdienstig) voor. Dit is ‘n geslote denkvorm of -sisteem. Fundamentaliste vrees meesal verandering. Hulle bestry enige ander siening wat hulle gevestigde of tradisionele geloof kan uitdaag of ondermyn, dikwels met geweld. Boonop floreer fundamentalisme op ‘n letterlike verstaan van die tekste wat die bron van sy aanhangers se denke of sienings vorm.
Die slegste van veral godsdienstige fundamentaliste is dat hulle voorgee om die begrip God finaal te definieer – en hulle dit dan ook inspan vir hulle eie saak. Hulle matig hulle selfs aan om eiehandig die naam van hierdie “makgemaakte” God te beskerm.
Wie die Bybel goed lees, sal egter weet dat God vir die mens ‘n onpeilbare, ja, by tye selfs ‘n donker werklikheid of geheim bly, ‘n misterie wat groter is as al ons konsepte en definisies daarvan en wat ons daarom op onverwagse maniere kan verras.
Jesus se lewe vertel ons by uitstek dáárvan (Joh 1:18).
Here, bewaar ons daarvan dat ons u Misterie sal misken, u Naam sal ontheilig en só die vele verrassings wat U vir ons in die hand het sal misloop. Amen
Carel Anthonissen