Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam (2 Korinthiërs 4:10).
‘n Gelowige vrou vertel onlangs aangrypend hoe uiterste trauma en lyding haar op ‘n vreemde manier nader aan die misterie van God gebring het.
Sy was saam met haar seun op toer in Mexiko toe hulle op straat deur rowers, desperaat op soek na geld vir dwelms, voorgekeer en aangeval is. Alles het so skielik gebeur. Voor die vrou nog kon keer, is haar seun voor haar oë geskiet en het die rowers met ‘n deel van hulle besittings gevlug.
Vir haar, so sou sy later vertel, was hierdie sinlose verlies van haar kind die skokkendste gebeure van haar lewe, ‘n trauma wat haar lank sou neem om te verwerk. En tog, so voeg sy by, was daar ín dié tragiese oomblik ook ‘n ander gewaarwording wat haar oor die jare sou help om haar smart te oorkom.
Terwyl haar kind sterwend voor haar gelê het, was dit skielik – so vertel sy – asof sy op heilige grond was, asof daar in dié verskriklike oomblik ook ‘n troostende nabyheid was; asof sy, terwyl haar lewe in totale chaos gedompel was, op ‘n vreemde manier omring was deur die misterie van God se lyding en deernis vir brose mense.
Alhoewel sy hierdie vreemde gevoel op daardie stadium glad nie kon peil of begryp nie, het dit haar oor tyd tog uitgebring by daardie bevrydende insig waaroor die digter William Blake so aangrypend geskryf het, naamlik dat: “Joy and woe are woven fine, a clothing for the soul divine. Under every grief and pine, runs a joy with silken twine. It is right it should be so; Man was made for joy and woe.”
Natuurlik beteken die vrou se storie nie dat ‘n mens ooit smart of lyding as deugde in sigself moet idealiseer of voorhou nie. Tog bly dit ons blywende uitdaging as mense, om wanneer smart ons tref, soos Blake, ook sin en selfs vreugde daarin te soek. Of soos Paulus: die saad van nuwe lewe in ons sterwe te sien groei (2 Kor 4:11).
Here, dit bly moeilik om positief te bly te midde van terugslae en verlies. Gee ons vandag weer die geloof om nuwe lewe, ja ú lewe in ons smart te ontdek. Amen
Carel Anthonissen