Dit is die geheimenis wat eeue en geslagte lank verborge was, maar wat nou geopenbaar is … (Kolossense 2:26).
Een van die talle maniere waarop die onpeilbare misterie of verborgenheid van God beskryf word, is as ‘n heilige donkerte.
Dit was veral die mistieke teoloog en digter, Johannes van die Kruis, wat ons van hierdie ongewone dimensie in die Godheid bewus gemaak het. Vir hom was donkerte en onsekerheid nie net deel van ons geloofpad nie. Ook die werklikheid van God ontglip ons telkens as ‘n donker, verborge en onpeilbare misterie, ‘n heilige soort donkerte.
En tog, so sou hy verder skryf, hoef hierdie donker kant van God ons nie te bedreig of angstig te laat soos wat ‘n onheilspellende nag soms doen nie. Inteendeel, in en deur Jesus, so getuig die Bybel, bevat die donker misterie van God ook hoopvolle lig, mag ons, dikwels op onverwagse maniere, in die donker misterie van God ‘n aanraking van ongekende liefde en goedheid ervaar.
Dit was só ‘n ervaring wat die Katolieke sanger, John Michael Talbot, beweeg het om sy aangrypende lied “Holy Darkness” te skryf. In dié lied hoor ons hoe die heilige God vanuit sy donker misterie die lydende en wroegende mens met dié troosvolle woorde tegemoet tree:
“In die vuur van rampe en kwelling het Ek jou op die proef gestel. Dáár het Ek jou siel geleer om te rou. In die barre aarde van jou eensaamheid, het Ek my saad van nuwe lewe geplant. Ja, in die diepste uur van jou donkerte, sal Ek aan jou ‘n ongehoorde rykdom gee. En wanneer die stilte jou gees kalmeer, sal my skatte jou lewe begin vul.”
Terselfdertyd hoor ons hoe Talbot in sy lied hierdie geseënde donkerte van God omhels. Dit doen hy deur te sing: “Heilige Donkerte, geseënde nag, antwoord van die hemel, verborge vir ons oog. Waar ons nou op U wag, o God van stilte, omhels ons u heilige nag.”
Natuurlik het Talbot die lied nie net vir homself geskryf nie. Dit is geskryf sodat ons ook vandag in stilte ons hande na die misterieryke, maar ook liefdevolle God van Jesus kan ophef met dié woorde: “Waar ons nou op U wag, o God van stilte, omhels ons u heilige nag.”
O Here, waar ons nou op U wag, omhels ons u heilige nag. Amen
Carel Anthonissen