Ek was in rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek (Psalm 30:12).
Wie tot vrede en aanvaarding van hulleself voor die aangesig van God gekom het, mag inderdaad met nuwe vreugdes en vryhede gaan leef
Hulle leer veral om dansend deur die lewe te gaan.
Om te dans, hoef nie net ‘n metafoor vir vroliker en minder ernstige manier van lewe te wees nie. Ons mag maar dans – letterlik – en só, in die woorde van John O’Donohue, “vreugde en vrede in die tempel van ons sintuie ervaar”.
In dié verband is daar ‘n wonderlike storie oor die besoek van ‘n bekende skrywer aan ‘n afgeleë klooster.
Op sy vraag of die monnike hulleself gereed kry om voor God te verskyn deur te vas, het een van die jong monnike laggend geantwoord: “Nee, nee, ons eet en drink en seën God gedurig vir die voedsel en drank wat elke dag aan ons gegun word.”
“Maar hoe dan?” het die skrywer aangedring.
“Deur te dans!” het een van die ouer monnike skielik van die kant af geantwoord. Hy was een met ‘n lang wit baard.
“Deur te dans?” het die skrywer verbaas geantwoord. “Maar waarom?”
Waarop die monnik geantwoord het: “Want om te dans, laat die ego sterf. En wanneer die ego eenmaal gesterf het, is daar geen verdere struikelblokke wat jou verhinder om één met God te word nie.”
Vir baie gelowiges wat konserwatief, eng en selfgeïnhibeerd grootgeword het, mag dit na ‘n vreemde antwoord of opdrag klink.
Feit is: Die Bybel skroom nie om die vreugde waartoe ons geroep is in sulke taal te beskryf nie. Só, jy mag maar dans.
Ja, méér nog: Jy behoort ‘n slag jou skroom en somberheid af te skud, jou feesklere uit te haal en jou litte los te kry.
Here, vergewe ons vandag ons swaarmoedigheid, ons onwil om bly te wees. Gee ons die moed om te dans. Amen
Carel Anthonissen