‘n Vrolike mens is ‘n gesonde mens, ‘n neerslagtige mens raak uitgeput (Spreuke 17:22).
Hieroor kan ‘n mens nie genoeg skryf nie.
Daardie aaklige neiging – of sal ‘n mens dit eenvoudig ‘n diepgewortelde en slegte gewoonte noem? – om heeltyd negatief en sinies op mense, dinge, sake, veral die gebeure in ons land, te reageer
Hoeseer daar ook al rede bestaan om te kla en te kritiseer, betaam dit ‘n mens nie, veral nie wanneer jy jouself ‘n gelowige noem, om alles altyd gedurig deur ’n swart bril te betrag nie.
Behalwe dat ander mense mettertyd en sonder dat jy dit altyd besef, hartlik moeg raak vir jou gesanik en geneul, doen jy jouself nie ‘n guns nie. Trouens, met jou gedurige geseur oor alles, vergal jy nie net jou eie siel nie, maar verskrompel en verkil jy langsamerhand tot ‘n sigbare stuk onbehae en knorrigheid – ‘n voorbeeld van lewe waarvoor min mense lus het.
Nee, ‘n mens moet jouself dissiplineer, elke dag, om positief, vrolik, wakker en hoopvol te leef. Jy is dit aan jouself en ander verskuldig.
En dit kán ook.
Selfs wanneer sake skeefloop, of nóg ‘n irriterende storie of mens jou omkrap, is daar altyd genoeg om steeds dankbaar en opgewonde oor te wees. Al is dit net dat jy vandag ‘n krummel kos op jou bord het, of ‘n stukkie mooi musiek in jou ore, of ‘n stukkie sonlig op jou voorkop, of iemand wat jou pyne ernstig neem en steeds na jou uitreik, steeds by jou staan, steeds op jou wag.
Boonop, so vertrou ons tog, is daar ‘n Heer in die hemel wat oor ons waak en wat ons lewe kosbaar ag – self meer nog as dié van al die elegante diere of kleurvolle en welriekende blomme van die aarde.
Kan jy vir meer vra?
Here, verlos ons van ons swartgalligheid. Leer ons vandag weer om vrolik, hoopvol en veral dankbaar te lewe. Amen
Carel Anthonissen