Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verlang (1 Tessalonisense 5:18).
Die week hoor ek ‘n eenvoudige verhaal met tipies mitiese trekke, hoewel met ‘n oulike les.
Die verhaal gaan oor een van baie duiwels wat ná ‘n dag se harde werk terugkeer na die hoofkwartier toe om aan sy baas, die hoofduiwel, te rapporteer.
Die terugkerende duiwel wat heeldag ywerig aan die woel was, is nie té ontevrede nie.
Soos dit ‘n goeie duiwel betaam wat sy ambag om te mislei en te verlei ken, kan hy ook sy suksesse vir die dag aanstip. En hy doen dit met groot oorgawe en behae, terwyl die groot duiwel goedkeurend knik en aanprys.
Ongelukkig, so rapporteer hy ietwat traag aan die einde, was daar tot sy verdriet ook ‘n vals noot in sy werk van die dag. Dit gaan naamlik om een groep op wie hy geen indruk kon maak nie. Hoe hy ook al probeer het, so vertel hy sugtend, “Hulle het verseg om na my verleidelike aanbiedinge te luister.”
Op die hoofduiwel se nuuskierige vraag oor wie so halsstarrig en onversetlik kon wees, was sy verleë antwoord: “Die klomp dankbares, my heer.”
Soos gesê, dit is geen sublieme verhaal met enige letterkundige waarde nie. Tog herinner dit ons aan ‘n belangrike waarde of deug. Dit is die deug van dankbaarheid.
Dankbaarheid, so vermaan Paulus (1 Thess 5:18), is ‘n deug wat die God van Christus by uitstek van ons verwag. Dit is ‘n deug wat ons hele lewe soos ‘n aangename geur behoort te vul en wat ons in alle omstandighede hoopvol en blymoedig kan stem.
Ons ook kan verskans teen allerlei negatiewe en afbrekende versoekings.
Ons kan dit maar glo.
Here, vervul vandag my hart met dankbaarheid waar ek nou tot U nader. Amen
Carel Anthonissen