Waarom verontagsaam julle self die gebod van God ter wille van julle oorgelewerde gebruike? (Matteus 15:3).
Om eg teenwoordig by onsself voor God te wees, beteken dat ons ook met liefde by ons medemens teenwoordig sal wees.
Vir die Bybel is dit vanselfsprekend: Niemand kan werklik aanspraak maak om God te dien of lief te hê, as hulle nie ook oop en deernisvol teenoor ander begin leef nie. Liefde vir die God van Jesus, lei ons noodwendig daarheen.
Of om dit meer beeldryk te stel: As die son van God se liefde en genade oor ons begin opgaan, gaan ons lewe soos ‘n blom oop en begin daar, in Paulus se woorde (Fil 4:18), ‘n aangename geur na almal rondom ons versprei.
So behoort dit te wees – en tog volg dit nie altyd vanselfsprekend nie.
Trouens, dit bly een van die groot raaisels dat ons as Christene steeds sukkel om hierdie twee dimensies van ons geloofslewe – liefde teenoor God en liefde teenoor die naaste – goed bymekaar uit te bring.
Baie van ons, terwyl ons die goedheid van God vir onsself bely, sukkel om dit voluit ook aan ander te gun. Soos die Fariseërs van ouds, tree ons by tye ook ongelooflik kru, onverdraagsaam, ongeduldig en ongevoelig teenoor ander op – veral dié uit ander godsdienstige tradisies, stande, geslagte of sosiale kringe wat nie soos ons is nie.
Waarskynlik hang ons onverdraagsaamheid daarmee saam dat ons nog nie diep genoeg aangeraak en verander is deur die misterie en verrassing van God se onvoorwaardelike liefde vir alle mense nie.
Ook in onsself nog so onvry en hard is.
Here, vergewe ons ons liefdeloosheid en hardheid teenoor ander. Raak ons vandag weer aan met u liefde wat harte sagter maak. Amen
Carel Anthonissen