Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Petrus 5:5)
Ons onverskilligheid teenoor ander hoef nie altyd so blatant of kru te wees nie.
Presies soos dié wat ander openlik beskinder en veroordeel en selfs – kan mens dit glo? – tot die hel verdoem.
Nee, ons gebrek aan liefde word dikwels op ander meer subtiele maniere uitgeleef of in spel gebring, meesal sonder dat ons eers daarvan bewus is hoe ons in sekere situasies steeds ander te na kom.
Soos daardie man wat in geselskap altyd hartlik op jou afstorm om te groet. En dan, sodra hy jou hand vasgegryp het, reeds verby jou kyk of daar nie iemand anders meer belangrik en interessant in die vertrek is nie.
Hierdie soort liefde of belangstelling is nie net oneindig selfgerig nie, maar is ook meesal hoogs selektief. Dit soek dié uit wat jou kan verryk en vermaak.
Ons ken dit tog: hoe almal van ons, ten minste by tye, daarvan hou om met die bekendes, die vernames en invloedrykes te meng en geassosieer te word. En hoe dit jou laat goed voel, selfs jou status, aansien en profiel as mens verhoog.
Die probleem is dat ons op dié manier – weer eens sonder dat ons dit altyd goed besef – maklik verbyleef aan hulle wat destyds veelmeer in Jesus se visier was: die eenvoudiges, die armes, die miskendes en eensames.
Weerlose mense wat ons lewe op sovele ander maniere kan verryk.
O Here, bewaar ons vandag van liefde wat selektief en selfgerig is. Bevry ons tot die grootmoedigheid en almal-insluitende liefde wat so deel was van Christus se lewe. Amen
Carel Anthonissen