Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God (Romeine 15:7).
‘n Boek wat in my kinderjare ‘n groot en onstellende indruk op my gemaak het, het die titel “Alleen in die wêreld” gehad.
Dit gaan oor ‘n seuntjie wat een oggend wakker skrik met die angswekkende ontdekking dat hy alleen in die wêreld is.
Om mee te begin, is daar by sy ouerhuis geen siel te vind nie – niemand wat hom kom roep vir ontbyt of hom help aantrek en sy skoolgoed regkry nie. En wanneer hy dit die straat in waag, vind hy die stad ewe verlate en leeg. Die winkel om die draai waar die familie gewoonlik inkopies doen, is gesluit met geen mens in sig nie – niemand om hom te groet of te verwelkom nie.
Dieselfde is waar van die poskantoor, die biblioteek, die stasie, die polisiekantoor en al die ander plekke. By sy vriende se huis speel dieselfde hom af. Hoe hy ook al roep, niemand antwoord of reageer nie.
Die ergste is wanneer die aand begin daal en hy besef dat hy die nag alleen sal moet deurbring. Wat ‘n angs! Wat ‘n benouenis!
Gelukkig, so kom dit later uit, was sy ervaring net ‘n slegte droom – ‘n aaklige nagmerrie wat hy gehad het, nadat hy die vorige aand met sy ouers baklei het, selfs op ‘n stadium geskreeu het dat hy hulle nie langer nodig het nie.
Wat wys dat ons versigtig moet wees om ooit sulke woorde te uiter of sulke gedagtes te koester.
Nee, ons het ander mense nodig. Ons is, in die woorde van die filosoof Martin Versfeld, “tot in die pit van die ander deurtrokke”. Sonder ‘n medemens wat jou waardeer en liefhet, verloor die lewe gou sy betekenis, ontaard dit maklik in ‘n nagmerrie.
Ons weet dit tog reeds: Ander mense bly onmisbaar vir ons menswees en ons geluk.
Daarom moet ons hulle bly aanvaar en waardeer.
O Here, gee my vandag weer ‘n oog vir my medemens. Help my om hulle as ‘n onmisbare deel van my lewe te aanvaar. Amen
Carel Anthonissen