Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie (Romeine 13:9-10).
Hoe belangrik en onmisbaar die ander vir egte sin en betekenis in ons lewe is, is eenmaal mooi deur ‘n oud-leermeester van my verwoord.
Sy woorde was: “Inter-menslike verkeer is nie net ‘n grondfeit nie, maar ook ‘n grondwaarde van ons lewe.”
Inderdaad is ons verhouding met die ander ‘n feit of ‘n gegewe wat ons nooit regtig kan ontduik nie. Altyd en oral word ons omring en gekonfronteer met ander mense. Selfs wanneer ons onsself by geleentheid fisies aan hulle sou wou onttrek, bly ons leefwêreld met sy verskeidenheid van objekte en kunsprodukte ‘n gedurige heenwysing na ander mense – na hulle arbeid, hulle vernuf, hulle gees en hulle teenwoordigheid.
Ander mense het in dié opsig ook die potensiaal en vermoë om gedurig waarde en betekenis aan ons lewe toe te voeg. Veral wanneer hulle in my belang stel of in liefde na my toe uitreik, dra hulle daartoe by dat ek my eie waarde as mens besef. Só word ander mense my naaste. En sonder die liefdevolle teenwoordigheid van die naaste, sal ons lewe gou tot onsekerheid en eensaamheid verskrompel.
Die ou kerkvader, Augustinus, het dié onmisbare waarde van liefde van die naaste só uitgedruk: “Die liefde is almal se lot, en wie die liefde uitroei, roei die wese van die mens uit. Sonder liefde word ons tydservaring ‘n hel.”
As beskaafde mense, en veral as gelowiges, is dit natuurlik ons plig om te sorg dat ons en ander mense nie in hierdie hel beland nie.
Wat daarvan dus dat jy dit vandag weer waag om in liefde en met belangstelling na ander toe uit te reik? Dat jy ‘n naaste vir hulle word?
Om mee te begin sal ‘n glimlag kan doen.
O Here, help ons vandag om nog eens die waarde van liefde te besef en dit ook daadwerklik te beproef en uit te leef. Amen
Carel Anthonissen