Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote (Psalm 25:16).
Om eensaam te wees, kan verskriklik raak.
Dit het ek lank gelede tydens ‘n studietydperk in die vreemde goed besef.
In dié tyd was ek lang periodes alleen, afgesny van kind of kraai en sonder enige moderne kommunikasiemiddel soos Skype, Facebook of e-pos. Mense het destyds per brief gekorrespondeer. En behalwe dat dit soms weke geneem het om langs dié kanaal nuus te ontvang, was die papier ook ontoereikend en, spreekwoordelik gesê, gans te geduldig. Gevolglik was die nuus en kontak baie yl en sporadies.
En tussendeur het die eensaamheid en die verlatenheid ‘n mens soms onverwags oorval. Op sulke dae kon selfs die skoonste natuur of bekendste museum min aan jou vaal gemoed of saligheid doen.
Boonop was die Europese winter daardie jaar straf – en met ‘n samelewing wat boonop koud, saaklik en onvriendelik was, het die eensaamheid dikwels ‘n sware beproewing, selfs ‘n akute stuk lyding geword.
Gelukkig was daar tog ook baie dinge en mense wat kon help om die ergste eensaamheid in dié tyd te besweer. Ook was daar altyd die vooruitsig van ‘n terugkeer na die veilige nis van ‘n vertroude familielewe.
Tog het dié ervaring my destyds opgeskerp vir baie mense wat hierdie las van eensaamheid moet dra. Mense wat elke aand tuiskom sonder ‘n troostende stem of siel in die rondte. En wat daarmee moet leer saamleef – wat dikwels net soos die Psalmdigter kan roep: “Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote” (Ps 25:16).
Ons durf sulke mense nooit vergeet nie.
Here, dankie dat U vandag weer ‘n toevlug is in ons nood – ook in die nood van ons eensaamheid. Help ons om dit nooit te vergeet nie. Maak van ons ‘n toevlug vir die eensames. Amen
Carel Anthonissen