Op ‘n vriend se liefde kan jy altyd reken (Spreuke 17:17).
‘n Goeie vriendskap of vriendskappe bly een van die groot gawes van die lewe.
Vriendskap besweer nie net die eensaamheid nie, maar versterk ook die gevoel dat jy as mens aanvaar, waardeer en bemin word.
Kom ons erken dit: Daar is min dinge wat soveel selfvertroue en menswaardigheid skep as goeie vriendskappe.
Daarom bly dit belangrik dat ons, náás ons talle verpligtinge, ook in goeie vriendskappe sal belê en dit met sorg onderhou. Wat beteken dat ons tyd sal maak om gereeld ons goeie vriende of vriendinne op te soek en saam met hulle dinge aan te pak, al is dit net om ‘n koppie tee of koffie te geniet of ‘n wandeling in die natuur te onderneem.
En om dan goed te luister na waar hulle in hulle lewe reis, wat hulle alles van dag tot dag ervaar, hoe hulle oor dinge voel, wat hulle nuutste drome of projekte is. Ook om in die gees van daardie wederkerigheid wat alle goeie vriendskappe kenmerk, vrymoedig jóú belewenisse, jóú persepsies, ja, selfs jou dieper hartsgevoelens en -wense te deel.
Vriendskappe wat die moeite werd is, het die vermoë om hierdie rykdom van persoonlike verhale en ervarings, gevoelens en persepsies wedersyds te akkommodeer, te versterk en om te skakel in die opwinding van ‘n spontane en liefdevolle ontmoeting. Sodat jy saam met die Spreukedigter kan getuig: “Op ‘n vriend se liefde kan jy altyd reken” (Spreuke 17:17).
Wie sulke vriendskappe ken, moet diep dankbaar wees, want daarsonder kan die lewe maar baie vaal en oninteressant wees.
Ook baie eensaam.
O Here, dankie vandag vir vriende wat my lewe verryk en sin daaraan gee. Amen
Carel Anthonissen