Boodskap vir Vandag

Search

Om in te tree vir die ander

Wie staan by my teen dié wat my leed aandoen? Wie help my teen mense wat my verontreg? (Psalm 94:16).

Om eg teenwoordig te wees by ons medemens, hetsy ‘n vriend, vyand of vreemdeling, beteken dat ons ook bereid sal wees om in tye van nood en verdrukking vir hulle in te tree.

Dit is nie altyd so maklik nie.

Dit vra dikwels spesiale en ongewone offers van ‘n mens. Soos dat jy jou gemaklike en gerieflike ruimtes sal verlaat en meer openlik en onbeskaamd sal opstaan en stry vir mense se saak, hetsy hulle regte, waardigheid of goeie naam.

Of dat jy, terwille van hulle menswaardigheid, diegene sal teëgaan wat dit bedreig of skend.

Soos met die inisiatiewe van groot menseregte-organisasies, sal dit soms vereis dat jy jou in die openbaar aan die verontregtes en hulle saak sal verbind. Sodat jy bereid sal wees om byvoorbeeld ‘n brief, verklaring of petisie ter ondersteuning van ander se saak te teken. Of selfs saam met dié wat dieselfde sentimente as jy het op straat te gaan om te protesteer.

Nie almal is hiermee ewe gemaklik nie. Dit moet ons begryp, dat elkeen sy eie vorm van protes en solidariteit met ‘n lydende medemens sal vind.

So byvoorbeeld vertel die gevierde skrywer, JM Coetzee, hoe ‘n betoging teen kernkragbewapening in Amerika hom aanvanklik totaal ontsenu het. Die voortdurende gedreunsang van slagspreuke met gebalde vuiste en die opsweping van emosie wat daarmee saamgegaan het, het hom gegrief en laat terugkrabbel na die veiligheid van sy skryfwerk.

Maar presies deur dié medium het hy dan ook sy kritiek teen die onreg van apartheid ál sterker gelug en laat hoor.

Hoe ons dit ook al aanpak: As gelowige mag ons nooit afgeskakel wees vir die hulpgeroep van dié wat onreg ly nie (Ps 94:16).

Here, maak ons ore en ons harte vandag weer oop vir die hulpgeroep van ons lydende naastes. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.