Vertel dit aan julle kinders, en laat hulle dit weer aan húlle kinders vertel, en dié weer aan húlle nageslag! (Joël 1:3).
Daar bestaan ‘n aangrypende verhaal met ‘n groot les uit die tyd van die Britse kolonialisering van die huidige Kanada.
Dit gaan oor die ontmoeting van ‘n groepie Britse amptenare met ‘n Indiaanse gemeenskap in die noordweste van die destydse Brits-Columbië. Die amptenare was blatant en het die land summier namens hulle regering kom opeis.
Soos ‘n mens kan verwag, was die plaaslike inwoners wat dekades lank reeds daar gewoon het, totaal uit die veld geslaan. Hulle kon eenvoudig nie verstaan waar hierdie buitestanders vandaan kom en waarvan hulle praat nie.
Uiteindelik het een van die ou Indiaanse ringkoppe sy mense se besorgdheid en besware só verwoord: “Indien dit julle land is, waar is julle stories?”
Met dié relatief onskuldige vraag, het die ou Indiaan ‘n groot waarheid aangeraak. Dit is dat ons verhouding met ‘n land en met sy mense deur die stories van ons lewe weerspieël en bepaal word.
Daarsonder het ons geen identiteit of selfkennis nie. Daarsonder ken mense ook nie mekaar nie, weet hulle nie van die ander se herkoms, lewensreis of geskiedenis nie. Daarsonder loop hulle ook die gevaar om, presies soos die kolonialiste van destyds, die ander te misken, te minag en selfs te onderdruk.
Tereg het iemand geskryf: “Stories is fonteine van groot wysheid en vars insigte. Hulle verbind ons aan mekaar asook aan die aarde waarvan ons almal deel is. En verborge in al ons stories is daar één storie – die storie van die web van lewe wat ons almal dra, voed en beskerm.”
Vir die skep van ‘n sinvolle en hoopvolle toekoms in Suid-Afrika, durf ons hierdie waarheid nooit vergeet nie.
Almal het hulle stories, en ons moet dié verhale leer ken en waardeer.
O Here, dankie vir die stories van ons lewe, stories wat ons aan mekaar verbind, aan ons land, aan die aarde en ook aan U. Laat ons dié stories nooit vergeet nie. Amen.
Carel Anthonissen