Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

‘n Christendom sonder krag

Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie (2 Timoteus 3:5).

Dit het my nog altyd gepla dat, terwyl 80 persent van Suid-Afrika hulleself as Christene beskou, ons in ‘n land woon waar misdaad en korrupsie hoogty vier.

‘n Mens kan nouliks die indruk vermy dat die Christendom, ondanks sy getalle, geen noemenswaardige invloed op ons samelewing het nie.

Waarom is dit so? Miskien, kom ons luister, kan die gelykenis van die bruilof in Matteus 22:1-14 ons ‘n leidraad bied.

Ons hoor daar allereers wat alles gebeur waar God regeer, waar sy koninkryk deurbreek. Dan, so suggereer die gelykenis, begin mense vrolik, uitbundig en ook verdraagsaam word. So hoort dit tog by ‘n bruilof!

By dié bruilof klink daar egter twee vals note op.

Die eerste hoor ons wanneer die genooides die gasheer se uitnodiging summier afwys, sodat hy mense van die strate moet gaan nooi.

Die tweede is vreemder, maar ernstiger. Dit is dat daar mense in die feessaal is wat wel die uitnodiging aanvaar het, maar wat nie feesklere aan het nie.

Om nie feesklere aan te hê nie, het net een ding beteken: Jy wil nie deel hê aan die gasheer se vreugde en wense nie. Ernstiger nog: Jy weier dat die fees jou lewe verander, dat jy met ‘n ander, nuwe kleed oorklee word.

Wat ons hier sien, is nie onbekend nie. Dit is dat Christene dubbelslagtig kan lewe. Terwyl hulle in die feessaal is, is hulle lojaliteite en voorkeure elders, ja, bepaal ander faktore en sentimente hulle waardes. Dit is die Christendom waarvan Paulus geskryf het dat, terwyl hulle nog die uiterlike skyn van godsdiens het, hulle die krag daarvan nie ken nie – ja, dit selfs verloën het.

Dit is ‘n Christendom wat, soos die gemeente in Laodisea, met kompromieë leef, en daarom moet hoor dat sy maar lou is (Open 3:14-22).

So ‘n Christendom sal inderdaad geen betekenisvolle impak op ons samelewing hê nie.

O Here, bewaar ons van daardie burgerlike godsdiens wat kragteloos geraak het. Oorklee ons opnuut met u genade en liefde, sodat ons ook nuut kan lewe. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.