Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie (1 Timoteus 6:17).
Die nuutste boek van Dirkie Smit, “Om te leef asof nie” (Bybelkor) – opgedra aan sy gestorwe vriend, Russel Botman – is ‘n skatkis van kleurryke verhale, treffende waarhede en fyn, maar belangrike, onderskeidings.
Een baie ter sake onderskeiding is dié tussen twee vorms van sinisme.
In aansluiting by David Mazella se boek “The making of modern cynicism”, wys Smit allereers op ‘n negatiewe vorm van sinisme, iets wat ons in Suid-Afrika goed ken, maar nie regtig nodig het nie. Dit is ‘n houding waar jy smalend en hovaardig op almal en alles neerkyk. Jou boonop die reg toe-eien om alles en almal te kritiseer, sonder om regtig om te gee vir die openbare belang of ‘n vinger te verroer om tot verandering by te dra.
So ‘n sinisme eindig gewoonlik in eensaamheid, en selfs ‘n gevoel van wanhoop.
Daarenteen is daar ‘n meer getemperde soort sinisme – een met ‘n gesonde sin vir realisme en wat (en dit is belangrik) die samelewing se beste belange op die hart dra. Dit is ‘n soort sinisme wat agterdogtig en krities is teenoor enige bestel of orde wat mag manipuleer of grypsug stimuleer. So ‘n soort sinisme of kritiese instelling huiwer nie om teen die heersende mag en moraal op te staan nie – is ook bereid om positief betrokke en diensbaar te raak sodat dinge kan verbeter.
Vir volgelinge van Christus, behoort so ‘n kritiese instelling wat tot verbeeldingryker aksie kan lei, vanselfsprekend te wees.
Here, bewaar ons vandag van daardie sinisme wat ons verlam en nutteloos maak. Amen
Carel Anthonissen