Boodskap vir Vandag

Search

‘n Oopgeskeurde hemel

Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ‘n duif na Hom toe sien neerdaal (Markus 1:10).

Soos ons reeds vroeër gehoor het, word die gees van Advent goed verwoord deur die versugting van Jesaja in hoofstuk 64.

Eers hoor ons hom kla oor die volk se sondes (v 5-7) – waarná hy pleit dat die Here nie vir altyd kwaad sal wees nie (v 9); dat God sal onthou dat God hulle gevorm het (v 8).

In dié konteks hoor ons sy diepste versugting: “As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom” (v 1). Of anders gestel: “As U maar wil ingryp en wil help!”

Advent help ons om hierdie versugting of verlange ook vandag in ons eie hart te herken en agterna te sê.

Maar Advent praat ook van die verhoring van Jesaja se gebed, die vervulling van God belofte dat hy sy volk nie sal vergeet nie. Ja, dat God sal kom om te help (Jes 66:12 vv).

Hoe aangrypend word hierdie belofte nie waar nie wanneer Johannes die Doper jare daarna die koms van Jesus aankondig en die pad vir Hom voorberei (Mk 1:2-8). En Jesus plotseling self tussen die mense kom staan (Mk 1:9). Dan hoor ons hiérdie woorde: “Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ‘n duif na Hom toe sien neerdaal” (Mk 1:10).

Sedert Christus se koms, is die hemel oop, die verborgenheid van God sigbaar, die weg van God af na die mens toe gebaan. Sodat ons nou maar met vrymoedigheid na God mag roep, in ootmoed mag bid en vra dat God sal kom.

Op dié manier betree ons vandag weer die avontuur van God se liefde en vergifnis vir mense.

Here, dankie dat U die hemel oopgeskeur het sodat ons met groter vertroue mag bid dat U sal kom. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.