Boodskap vir Vandag

Search

Deel van ’n groter prentjie

My tye is in u hand (Psalm 31:16).

As teoloog bly dit een van my vreugdes om mense gereeld daaraan te herinner dat hulle lewe deel vorm van ’n dieper orde, ja, ’n groter geskiedenis of prentjie as waarvan hulle daagliks bewus is.

Dit is naamlik die orde en geskiedenis waarvan die Bybel ons vertel – ’n geskiedenis wat begin het met die skepping van die mens, en wat sy hoogtepunt in die verskyning van Jesus van Nasaret gevind het.

Dit is ’n geskiedenis wat vandag nog, danksy die werking en invloed van die gees van Christus, ons alledaagse lewe deurdring, dra en stempel.

Sodat – so getuig die Bybel – ons onsself nie langer as slagoffers van ’n onvoorspelbare tyd of geskiedenis hoef te sien nie. Of as mense wat hulpeloos uitgelewer is aan onbekende magte of ’n blinde noodlot sonder gesig nie. Nee, as deel van God se geskiedenis word ons daagliks gedra en versorg soos kinders in ’n veilige huishouding.

Om dít te glo en te ervaar, is nie maklik nie. Veral nie wanneer die wêreldse sisteme ons knel, die eise van die werk ons uitput en die alledaagse sorge ons hoop vernietig nie. Dan word ons uitgedaag om stiller te word, dieper te kyk en te ontdek dat ons lewe deel is van ’n groter, troosvoller prentjie.

Die oorgang na ’n nuwe jaar moet ons bewussyn hiervan verskerp.

Here, dankie dat ons lewe vandag weer in u hande is. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.