Toe Jesus verbyloop het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Daar is die Lam van God” (Johannes 1:36).
Tereg het ons gister verneem dat ons lewe as gelowiges deel van ’n unieke en merkwaardige stuk geskiedenis is – God se heilsgeskiedenis.
Ons beweeg tans die eerste week binne van wat tradisoneel in hierdie geskiedenis as epifanie bekend staan. In Grieks beteken dit letterlik: Godsverskyning.
Tydens die tyd van epifanie word ons genooi om spesifiek na te dink oor die verskyning van God in die persoon van die mens, Jesus van Nasaret. Ja, dit self te vier, soos wat die kerk al sedert die sewende eeu aan die begin van elke nuwe jaar doen.
En inderdaad mág ons dit maar vier. Want epifanie verkondig die ongelooflike waarheid dat God – die God wat hemel en aarde gemaak het – nie langer onbekend of afwesig is nie. Sedert Jesus se koms mag ons weet: God is nou hier, tússen ons, bý ons, óm ons, téén ons.
Presies soos wat Jesus destyds by ons was.
In dié week se teks is dit die groot ontdekking van Jesus se dissipels: hoe die Gees van God self in Jesus as Messias sigbaar geword het. Sodat Johannes kon uittoep: “Daar is die lam van God!” (Joh 1:33). En Andreas en Filippus later met vonkelende oë kon getuig: “Ons het Hom gekry …” (Joh 1:41,45)
Wat dié belydenis alles beteken het, sou later veel duideliker word.
Here God, dankie dat U vandag steeds onder ons woon en werk. Dit is ons troos, dit bly ons hoop. Amen
Carel Anthonissen