Verder sê Jesus vir Hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en die engele van God sien op-en afklim na die Seun van die mens toe” (Johannes 1:51).
Wie moeite doen om vas te stel wie Jesus van Nasaret presies was, Hom ook op sy unieke weg begin volg, al is dit met skroom en huiwering, kan – aldus Johannes 1:43-51 – ook ‘n tweede heerlike ontdekking maak.
Dit is dat die hemel skielik vir hulle oopgaan.
Dié belofte aan Natanael in Johannes 1:51 verwys allereers na die verhaal van Jakob se droom in Genesis 28:11-19. Deur sy droom het Jakob destyds, terwyl hy homself as totaal verlore, verlate en verstote gevoel en geag het, skielik ontdek dat God by hom teenwoordig was.
Om onder ‘n oop hemel te leef, is dus om te weet: God is gedurig by my, ek word omring en gedra deur God se goedheid en genade. Ja, méér nog: Ek word beskerm deur sy liefde, selfs al lyk dit party dae asof die magte van korrupsie, onreg en terreur die oorhand het.
Om die Man van Nasaret te volg, bring ons altyd in hierdie kragveld van God se sorgende liefde en teenwoordigheid tereg.
Dít mag jy maar glo, selfs al verstaan jy nie aldag nie hoe dit werk nie.
Here, dankie dat sedert Jesus se koms die hemel oop is en ons nooit meer alleen is nie. Amen
Carel Anthonissen