Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met my …” (Markus 1:17).
Miskien is dit die onmiskenbare simptoom van ouer word, maar die vraag na die sin van die lewe, na die betekenis van ons enkele “leefbeurt” (Wilhelm Jordaan) op aarde, druk deesdae swaarder op my.
Ja, waarvoor staan ons soggens op? Waarvoor wag ons die rooidag in?
Is dit bloot om te gaan werk, genoeg geld te maak om eendag veilig af te tree? En tussendeur genoeg te eet, te slaap en te ontspan sodat ons môre met voldoende energie die hele proses weer van vooraf kan begin?
Kom ons wees billik. Al dié aktiwiteite kan op hulle eie baie sinvol wees.
Tog sal jy saamstem, om nét daarvoor te leef, jou lewe alleen dáármee te vul, voel eenvoudig na te min – ook hopeloos te eng en selfgesentreerd, asof die lewe alleen om oorlewing gaan.
Ons lewe is tog nie soos ‘n plant wat bloot vegeteer om uiteindelik onherroeplik te verwelk nie. Boonop skuil in so ‘n meganiese en voorspelbare aanpak van die lewe die kiem van groot verveling. Ja, die skrik dat dit alles verniet en leeg kan wees, soos die Prediker ontdek het.
Waarskynlik is daar meer as een antwoord op die vraag na die sin van die lewe. In Markus 1 – ons teks vir die week – word gesuggereer dat dit onder andere ook iets te make het met roeping, die ontdekking en wete dat daar ook ander stemme in my lewe as net die stem van my eie behoeftes roep.
Kom ons kyk môre wat dit beteken.
Here, my lewe is vasgedraai in voorspelbare roetines. Verlos my vandag daarvan. Laat my asseblief u stem hoor. Amen
Carel Anthonissen