Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak” (Markus 1:17).
Die roeping van die dissipels, hoewel verskillend vertel, word in al die evangelies vermeld – wat reeds wys hoe belangrik dié saak destyds was.
Om dissipels te hê het nie net vir Jesus gehelp om sy sending te volvoer nie. Ook vir die dissipels self was die roeping om Jesus te volg van lewensbelang. Daarmee is hulle via Jesus in God se groot beweging van heling en sorg vir die wêreld ingetrek. Belangriker nog, so kon hulle – waarskynlik die eerste maal – die diepe sin van hulle eie lewe op aarde ontdek.
En dit is om in navolging van Jesus vissers van mense te wees.
Wat nie in die eerste plek beteken dat jy mense dwing om soos jy te glo of te dink nie. Inteendeel, dit is om mense te help om die beste in hulleself, die unieke gawes wat God aan hulle geskenk het, te ontdek en aan ander diensbaar te maak.
Want dit is waarom roeping gaan: Dat ons nie langer net vir onsself en ons eie belange en voorkeure leef nie, maar vir ander mense s’n. Om hulle te help om vryer, gelukkiger, liefdevoller en mensliker te leef – presies soos Christus.
Weliswaar sal die uitleef van ons roeping van mens tot mens verskil.
Maar altyd sal dit beteken dat ons aan ‘n ander stem in ons lewe gehoor begin gee – die stem van God. En dat ons met groter nederigheid, dankbaarheid en opoffering sal begin leef (Luk 4:5-11).
O Here, leer my vandag wat mý roeping in die lewe is – hoe ek ‘n visser van mense kan wees. Amen
Carel Anthonissen