“Wat gaan hier aan? Dit is ‘n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die bose geeste, en hulle gehoorsaam hom” (Markus 1:27).
Die tweede ding wat gebeur wanneer Jesus met gesag die lig van God in die donker wêreld van Kapernaum indra, is dat Hy ‘n besete man genees en die bose geeste ontwapen en onderwerp (Mk 1:23-27).
Hoe ons ook al in ons moderne tyd hierdie verskynsel van duiwelbesetenheid sielkundig of teologies beoordeel of verstaan – die feit is dat dit in Markus 1 ‘n eienaardige en opvallende tweeslagtigheid by die besete man teweeg gebring het.
In die woorde van die teoloog, Wilhelm Stählin: “Die man se eie gees, hart en gemoed was in besit geneem en oorweldig deur ‘n vreemde mag.”
Op ‘n manier staan ons hier nogeens by die eeu oue en onbegryplike raaisel van die sonde. Dat, soos met Adam en Eva, vreemde magte soms in ons lewe werksaam is, magte wat ons meevoer in rigtings en op weë wat ons in die spreekwoordelike wildernis laat beland. Ook vervreem van ons eintlike kern, van wat God vir ons bedoel het.
En wanneer Jesus volgens dié verhaal die Bose uitdryf, is dit om ons te herinner dat Hy ons van hierdie vreemde magte en donker drifte kan bevry sodat ons die mense kan word wat ons bestem is om te wees.
Want Jesus heers oor die Bose.
Here dankie dat U oor die Bose triomfeer, ook in my eie lewe vandag. Help my om dit te glo. Amen.
Carel Anthonissen