Onmiddellik het hulle die nette gelos en Jesus gevolg (Markus 1:18).
Die Eskom-fiasko leer ons één belangrike les.
Dit is dat van uitstel uiteindelik afstel kan kom. En dat jy nie moet wag tot die krisis jou inhaal en verlam voordat jy handel nie. Jy moet dadelik optree, die probleem vierkantig in die oë kyk en met geloof en oorgawe aanpak.
Hierdie reël geld nie alleen vir groot maatskappye of organisasies nie. Dit geld ook van ons persoonlike lewe. Hoe dikwels val ons nie vas in onsekerheid, selfbejammering of besluiteloosheid nie! En dan word alles moeite, selfs uitsigloos, donker en sonder betekenis.
Nee, daar is altyd lig, betekenis en ander uitweë. Maar dan moet ons nie talm nie. Ons moet handel – nou, dadelik, onmiddelllik.
In dié verband kan ons gerus van die Markus-evangelie leer. Regdeur die verhale is daar sprake van ‘n gesonde haas – by Jesus, sy dissipels, die skare. Luister net: “Dadelik het Hy hulle geroep …” (Mk 1:20); “Onmiddellik het hulle die nette gelos …” (Mk 1:18); “Hulle het reguit na die huis toe gegaan …” (Mk 1:29); “Hy het opgestaan en dadelik sy draagbaar gevat …” (Mk 2:12) en “Toe dit nog nag was, het Hy opgestaan …” (Mk 1:35).
Dit kon ook nie anders nie, want die koninkryk was onder hulle. Daar was werk om te doen.
Net soos vandag.
O Here, bewaar ons van daardie verlamming wat ons lewe onvrugbaar kan maak. Gee ons die moed, geloof en energie om nóú te handel. Amen
Carel Anthonissen