Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid (Markus 1:35).
Die egte Christelike lewe is deur die eeue heen altyd deur ‘n gesonde balans tussen twee dinge gekenmerk.
Ons kan dié twee dinge sosiale betrokkenheid en afsondering noem, solidariteit en stilte. Anders gestel: ‘n verantwoordelikheid vir die wêreld en sorg vir ons eie innerlike gesondheid.
Enersyds is ons as Christene geroep om voluit in die wêreld te gaan leef. Om elke dag van ons omgewing en samelewing ‘n vredevoller, mensliker en vriendeliker plek te maak. Al is dit dan net dat ons ons daaglikse arbeid met eerlikheid, dissipline en oorgawe doen. Of sorg dat ons verhoudings met ander gelukkig en opbouend is.
Tog weet ons almal dat die aansprake van die samelewing – van ons werk en van ander mense – ons dikwels oneindig kan vermoei en omkrap. Sodat ons knorrig, ongeduldig en liefdeloos raak. Nie meer lus het om ander by te staan of te help nie. Want net om self te oorleef, verg al inspanning.
In sulke tye is dit nodig dat ons deur stilte en afsondering, ja, deur gebed en nadenke voor ons Skepper tot ‘n dieper rus sal kom. Een wat ons weer sal uitbring by die beter, sagter en liefdevoller dele van onsself. Sodat ons môre weer met meer geduld, vrede, liefde en toewyding vir ander kan gaan leef.
Jesus was ‘n wonderlike voorbeeld van hierdie soort balans. Gaan lees maar gerus weer Markus 1:32-39.
O Here, gee ons weer vandag daardie balans wat van ons waardige getuies vir U sal maak. Amen
Carel Anthonissen.