Jesus het hulle toe begin leer …(Markus 8:31).
Dit bly een van die groot tragedies van ons moderne tyd dat mense, ook ernstige gelowiges, nie meer die stories van die Bybel, met name die Evangelies, ken en ernstig neem nie.
Tereg wys die bekende geestelike skrywer, Eugene Peterson, daarop dat die Bybelse verhale ons nie net leer om reg te dink nie, maar ook om eerliker, méér moreel en met groter blydskap te leef.
Om daarby uit te kom, vra egter – aldus Peterson – dat ons onsself voortdurend in die verhale sal dompel en week, daarin sal bly soos met ‘n gevestigde woonplek, toelaat dat dit ons gees en instelling, stemming en uitkyk elke dag bepaal en stempel.
Sy oproep het my laat dink aan die woorde van die bekende ruimtevaarder, Neil Armstrong. Op ‘n keer toe sy tuig byna neergestort het omrede sy kollega in ‘n kritieke oomblik sy hand van die kontrole afgehaal het, het Armstrong hom agterna in ‘n kort nota herinner: “When you change an airplane’s control in flight, hang onto that control until the airplane does what you want.” Wat in die praktyk eenvoudig beteken: “Bly by dit wat jou in die lug hou.”
Inderdaad kan mens se lewe, soos die vliegtuig, ongesiens buite beheer raak, uitmekaar begin val en ineenstort omrede jy nie by die kragbron bly nie.
Nie luister wanneer Jesus self ons wil leer hoe om te lewe nie.
O Here, help ons vandag om naby U te bly en ons in u woorde van lewe te week. Amen
Carel Anthonissen