Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is” (Markus 9:5).
Markus se verhaal van die verheerliking op die berg – ons teks vir die week – verteenwoordig ‘n oorgang in sy vertelling.
Tot by hoofstuk agt het Markus ons vertel van Jesus se openbare bediening. Hoe Hy deur sy lering en genesingsdade mense van oraloor bevry het. Vanaf hoofstuk nege begin Jesus se reis na Jerusalem waar Hy sou ly.
Maar kort vóór dit gebeur daar die verheerliking op ‘n hoë berg – die berg wat tradisioneel gesien is as ‘n plek waar God homself openbaar het.
Volgens Eugene Peterson bring hierdie sonderlinge verhaal ons allereers te staan voor die estetiese kant van God se openbaring. En alhoewel die woord skoonheid hier nie uitdruklik genoem word nie, is dit presies wat die dissipels hier ervaar, te wete die skoonheid van Jesus. Kragtig beskryf Markus dit: Hoe Jesus se voorkoms voor hulle oë verander het en sy klere blink geword het, spierwit soos geen mens dit kan maak nie (Mk 9:2-3).
Geen wonder die oomblik word ‘n bergtop-ervaring nie – ‘n moment van oorstelpende ekstase en intense genieting. Sodat Petrus ten alle koste wou bly en daaraan vashou. Selfs al het dit hom deels verskrik (Mk 9:6).
Weliswaar kan ons op ons geestelike reis nie altyd sulke ekstatiese momente soek of daarop reken nie. Maar soms gun God dit aan ons om diep ontroer te word en om die skoonheid van sy genade en liefde op oorstelpende maniere te ervaar.
En dan moet ons dit met blydskap ontvang en geniet.
Here, dankie vir oomblikke van ontroering wanneer ons op onverwagse maniere bewus word van u genade. Help ons om dit met oorgawe te ontvang. Amen.
Carel Anthonissen