Jesus het hulle toe begin leer dat die Seun van die mens baie moet ly … (Markus 8:31).
Om net van bergtop-ervarings in ons geestelike lewe te wil leef, met ander woorde gedurig op soek te gaan na die estetiese, na oomblikke van intense genot, ontroering en selfs oneindige gemak, is nie genoeg nie.
Dit kan selfs gevaarlik wees.
Ons sien dit duidelik in die verhaal van Jesus se verheerliking op die berg. Want wanneer Petrus die opwinding en skoonheid van die oomblik wil vashou en bestendig deur drie hutte te bou, word sy voorstel deur ‘n nuwe goddelike openbaring onderbreek (Mk 9:5-7).
Dan word dit duidelik hóé onbeholpe en kortsigtig Petrus steeds was – sku vir die lydensweg van Jesus wat om die draai gewag het. Hoe hy steeds nie besef het dat die oomblik van verheerliking op ‘n hoë berg as voorbereiding vir die verdere pad saam met Jesus bedoel was nie – ‘n pad wat nou deur die gewone lewe sou loop, en uiteindelik dood en lyding, nuwe offers en oorgawes sou vra.
Want uiteindelik is dít wat die lewe saam met Jesus behels, waaroor egte dissipelskap gaan, om in die alledaagse lewe, presies soos Hy, ‘n lewe van liefde en geduld, van selfprysgawe en offerbereidheid te bly kies.
Hoe om daarby uit te kom in ‘n land waar soveel dinge ons in die teenoorgestelde rigting trek, bly ons grootste uitdaging.
Here, bewaar ons daarvan dat ons geloof te gerieflik en rustig word. Leer ons die uitdagings van ons tyd, en hoe om daarop te reageer. Amen
Carel Anthonissen