Boodskap vir Vandag

Search

Die magte om ons

Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is (Markus 1:12-13).

Dit is nie toevallig dat waar ons nou in ons herinnering die lydenstyd van Jesus binnegaan, ons teks vir die week (Mark 1:9-15) oor Jesus se versoeking in die woestyn handel nie.

Die verhaal wys hoe die aanvegtings in Jesus se lewe, en daarmee saam sy swaarkry en lyding, vroeg reeds begin het. Sy versoeking deur die Satan (Mark 1:12-13) is as ‘t ware die eerste salvo’s van ‘n geveg of stryd wat later by die kruis finaal besleg sou word.

Markus se kort vertelling van dié versoeking – dit is amper net ‘n verwysing daarna – bevat egter ‘n aantal ryk perspektiewe.

Een daarvan is dat ons lewe daagliks deur allerlei magte omring word, goed én sleg, heilsaam én boos. Weliswaar het hulle vandag ander name as in Jesus se tyd, maar hulle is dáár. Party kan ons lewe verryk en goed maak. Maar daar is ander wat méér boos en duiwels is en ons lewe kan vernietig – ons kan lei om keuses te maak wat rampspoedig is, vir onsself en vir ander.

Paulus waarsku tereg dat ons stryd nie noodwendig teen vlees en bloed (met ander woorde ménse) is nie, maar teen die bose magte in die wêreld en die lug (Efes 6:12) – dit is daardie magte, drifte, gewoontes, ideologieë en invloede wat mense verslaaf en dikwels tot dwaasheid, ja, selfs tot waansin en sinlose geweld kan dryf.

Laat ons in die komende week ‘n bietjie hierna kyk.

O Here, bewaar ons vandag opnuut van die bose. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.