Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Paal en perk aan sy mag

Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in … Jesus was saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg (Markus 1:12-13).

Jare gelede het die bekende teoloog-filosoof, Hennie Rossouw, ‘n praatjie oor die duiwel by ‘n kamp vir studente op Stellenbosch gehou.

In die praatjie het hy allereers die Bybelse perspektief onderstreep dat daar inderdaad ‘n duiwelse boosheid in ons wêreld los en werksaam is. ‘n Ander belangrike punt was dat, terwyl ons die werk van die Bose nie moet onderskat nie, ons dit ook nie durf óórskat nie.

Die rede daarvoor, het hy aangevoer, is omdat die Bose ‘n oorwonne mag is. Omdat Christus deur sy kruisdood en opstanding uit die dood reeds van buite paal en perk aan die Bose se mag gestel het.

Sodat wanneer ons in Christus glo, ons ook, soos Hy, beskerm is teen die Bose se aanslae en verleidings, teen die talryke subtiele maniere waarop die Bose ons probeer bind aan dit wat onmenslik, oppervlakkig en sieldodend is.

Hoe Christus deur God gelei en verskans is teen die Bose, sien ons duidelik in Markus 1:10-15. Dit is asof hele kort vertelling oor Jesus se versoeking van alle kante deur God se beskermende mag omring is.

Ons hoor dit in die verklaring deur God dat Jesus God se geliefde seun is (Mark 1:11). Ons sien dit in die misterie dat die Gees self Jesus die woestyn inlei (Mark 1:12). En dan speur ons dit in die manier waarop die engele Jesus versorg (Mark 1:13).

Uiteindelik hoor ons dit in Jesus se eie aankondiging dat die koninkryk van God onder ons is (Mark 1:15).

Sodat ons nie langer die Bose hóéf te vrees nie.

Here, wat ‘n troos om vandag te weet dat die Bose ‘n oorwonne mag is, selfs al word ons baie dae deur sy verleidings en aanslae gepla. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.